Eselfontein Gasteplaas

In die hartjie van die karoo is ‘n honderd en sestig jaar-oue, geskiedkundige T-dak plaashuis wat van klip gebou is, geleë op die plato van die Nuweveldsberge tussen Fraserburg en Sutherland.

Dit is onlangs gerestoureer en omskep in ‘n gastehuis met 3 slaapkamers (4 enkelbeddens en een dubbelbed). Die gastehuis is op ‘n werkende plaas wat aan gaste oopgestel word om te geniet.

Wintermaande raak dit hier baie koud. Die laagste tempratuur (-16˚)is op 16 Julie 2000 aangeteken. Die gastehuis het ‘n binnebraai vir die koue wintersdae as die sneeu wit lê en die suidewind woed. Daar is ook ‘n legendariese, Aga-stoof in die kombuis – die hart van enige Karoo-plaashuis.

Vir die mooiweersdae is daar ‘n groot, gesellige bosskerm vir buite braai. Die badkamer is toegerus met eenrigting glas; terwyl jy bad of stort kan jy ongehinderd oor die karooveld en groen lusernlande uitkyk. Die huis het Eskomkrag, maar GEEN selfoonontvangs of telefoon nie. (telefoon wel beskikbaar 500m weg, vir noodgevalle)

In die laat 1700 het bespieders vanaf Sutherland ‘n hoë berg gesien; hulle het gehoop om vanaf dié berg te sien of hier enigsins mense woon en rondbeweeg. Na omtrent twee weke te voet het hulle bo-op Eselfontein se berg gearriveer. Onder aan die voet van die berg was ‘n groen oase met duisende “de eseljes” of die sogenaamde Kaapse Bergkwagga’s om die fontein. Vandaar die plaas se naam ESELFONTEIN.

Geen mense is by die fontein gewaar nie en daar en dan is die eerste modderhuisie se fondasie gelê. Sedertdien is die plaas (5000 morg of 8000ha) permanent bewoon. Die plaas is later jare tussen twee broers verdeel en daarom dat hier vandag twee huise op die plaas is. Die hoofwoonhuis is in die vroeë 1900’s gebou en word tans deur die eienaar bewoon. Die eerste woonhuis wat in die middel 1800’s gebou is, is omskep in ‘n gastehuis.

Hierdie plaas bied die ideale wegbreekgeleentheid vir gesinne wat moeg is vir die stad, wat net wil rustig kom verkeer en rus. Geen selfone wat lui, geen motors wat jag, geen toeters wat raas, geen gedruis van mense – net ‘n oorvloed aan stilte en vars lug. Dit is ook ‘n ideale geleentheid om kinders bloot te stel aan die plaaslewe.

MAAR vir die meer avontuurlustige is dit ‘n paradys. Dit is ‘n werkende plaas waar met skaap geboer word. Sekere tye van die jaar word die skape geskeer, by tye is daar honderde ooie om die huis wat lam en met klein lammertjies loop. Fietsroetes, motorfietsroetes, 4×4 roetes, 2×4 roetes, staproetes, Trailrun roetes, swem, windbuks skiet, kettie skiet en vele meer. Daar is tienduisend hektaar beeldskone karoonatuur om te geniet.

Vir die motorfiets-geesdriftiges: Die plaas is geleë op die pad tussen Fraserburg en Sutherland. Die sogenaamde “Rante Pad” is baie bekend en baie gewild onder motorfiets-entoesiaste. Die gasteplaas kan as oornagpunt gebruik word of dit kan as basis gebruik word waarvandaan dagritte aangepak word. “Offroad”-roetes is ook beskikbaar vir die meer avontuurlustige.

Vir die fotograwe: Die plaas bied ‘n fees aan die entoesiastiese fotograaf. Die karoo se sonopkomste en -ondergange bied ongeëwenaarde skoonheid, om nie eers van die ikoniese windpomp te praat nie. ‘n Foto met ‘n windpomp in die agtergrond bly maar eenmaal ‘n treffer.

ESELFONTEIN GASTEPLAAS bied ‘n onvergeetlike wegbreek vir iedereen: Rustigheid, veiligheid, skoon lug, gasvryheid, vriendelikheid en gesinsgenot kom gratis saam met elke bespreking.

Come experience Karoo hospitality on a working farm.
Self-catering.
30km from Fraserburg on the scenic Rante Road
en route to Sutherland.

Contact us

Tel 023 741 8855
Whatsapp 082 390 6699

Proudly powered by WordPress | Theme: Baskerville 2 by Anders Noren.

Up ↑