Fraserburg Logan Toneelfees




Die jaarlikse Logan Toneelfees vind elke jaar gedurende die eerste week van Augustus in die skoolsaal van Hoërskool Fraserburg plaas. Hierdie is die grootste en oudste jeug toneelfees in die land en is al sedert sy ontstaan in 1976 ‘n vertoonkas vir skole (amateur) toneelstukke. Inderwaarheid is dit ook die oudste fees in Afrikaans. Dit is ook die oudtste fees in Afrikaans in ons land.

In 1976 besluit ‘n paar dames op die dorp om ‘n kunswedstyd te reël. Met visie en harde werk vestig Jeanette Lombard, Nicoleen Van Wyk, Jeanne Biesenbach, JC Van Der Merwe, Ida Cloete, Paula Calitz en Desiré Reitz die Logan Toneelfees as die teenaangewende toneelfees in die destydse Kaapprovinsie. In die beginjare was die fees meer ‘n eisteddfod.  Spoedig (ná 1978) is slegs toneelstukke akkommodeer. Vir die eerste tien jaar behartig Pieter Fourie en Merwe Scholtz die beoordeling en onder hul aansporing brei die fees verder uit. Die oorspronklike doel van die fees was nie net om kwaliteit toneelstukke na die platteland te bring nie, maar ook om die omliggende skole (in Sutherland, Williston, Carnarvon, Loxton, Merweville en Beaufort-Wes) speelgeleentheid te bied. Vandag nóg neem van hierdie skole aan die fees deel. 

Sedert die ontstaan van die fees was daar nog net vier voorsitters, naamlik Jeanette Lombard (1976-1980), Nicoleen Van Wyk (1981-1997), Elsabé Visagie (1997-2007) en Gerhard Visagie (2008-hede). Nicoleen Van Wyk sterf tragies gedurende die Toneelfees in 1997 toe die voertuig waarin sy en die feesbeoordelaars gereis het, buite die dorp die grondpad verlaat.

Die Logan Toneelfees is ook die moeder van baie ander jeug toneelfeeste. Tans kan al die jeugtoneelfeeste in Montagu, Springbok, Stellenbosch en Durbanville hul spore naspeur tot in Fraserburg.

Bekende akteurs wat by die Logan Toneelfees naam gemaak het is onder meer Pedro Kruger, André Van Der Merwe, Christo Davids, Vicky Davis, Theodore Jantjies, Viljé Maritz en Ben Albertyn. Ander bekendes wie se paaie al met Logan gekruis het is Marion Holm, Hennie van Greunen, Margit Meyer-Rödenbeck, Chris Vorster, Herman Van Der Westuizen, Gaerin Hauptfleish, Maulise Kotzé, Johan Esterhuizen, Juanita Swanepoel, Ivan Abrahams, Riaan Visman, Christiaan Olwagen, Nico Scheepers, Waldemar Schultz, Albert Maritz en Esther von Waltsleben.

Vandag neem skole uit bykans al die provinsies deel aan die fees en word sowat 40 produksies gedurende die feesweek op die planke gebring. Alhoewel die fees oorwegend Afrikaans is, is dit nie eksklusief so nie. Dit is ook tans die enigste fees wat speelkans vir leerders in die afdelings Kindertuin, Laerskool en Hoërskool tydens dieselfde fees bied. Dikwels behartig skoolleerders self ook die regie, tegniese aspekte en is hulle ook die dramaturge van die tekste. Die fees se tegniese ondersteuning is werklik van professionele gehalte.

As gemeenskapsorganisasie is die fees afhanklik van alle bydraes om die fees op die planke te hou. Die komitee-lede is almal vrywilligers.

Fraserburg Logan Toneelfees vir Noordwester in 2018

Die 43ste jaarlikse Logan Toneelfees is tans in volle swang. Die fees loop Saterdag aand 4 Augustus ten einde. Bykans 40 skole produksies neem deel in wat as die Cravenweek van toneel in Suid-Afrika beskryf word. “Die fees is uniek op die toneelkalender- beide in terme van volume en kwaliteit,”sê die fees se voorsitter, alombekend as Sir (Gerhard Visagie).  “Ons bly besig en die saal is vol saans. Die naweek is natuurlik die hoogtepunt. Ons is ook bly om vanjaar twee nuwe pryse aan te bied- een vir beste akteur net in die laerskool afdeling en dan een vir beste aktrise ook net in die laerskool afdeling. Ons is bevoorreg om so baie jong en nuwe talent op die verhoog te sien.”

Die Logan Toneelfees bied steeds ‘n platform waar plaaslike skole uit die Karoo met die top toneeelskole in die land kan deelneem. Dit is steeds ook die enigste toneelfees waar ‘n leerder in Graad 1 en ‘n matrikulant saam kan deelneem.

Proudly powered by WordPress | Theme: Baskerville 2 by Anders Noren.

Up ↑